Keuselys/Menu


Wenners van eerste RSG Blokraaitoernooi bekendgemaak

NUUSVRYSTELLING: JULIE 2016


Ilse van Hemert van Pretoria is by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein gekroon as die heel eerste nasionale blokraaikampioen nadat sy eerste gekom het in die RSG Blokraaitoernooi. Me. Van Hemert het met ‘n totaal van 9,000 punte in die finaal haar twee opponente, Jo Hiemstra van Bloemfontein en Willie Pretorius van Pretoria, uitgestof om die gesogte titel in te palm.

Die RSG Blokraaitoernooi is vanjaar die heel eerste keer in samewerking met die blokraaigroep, XWord, en die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Vrystaatse Universiteit aangebied. 

V.l.n.r: Prof Angelique van Niekerk (Hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans), Willie Pretorius (3de plek), Ilse van Hemert (RSG Blokraaikampioen 2016), Jo Hiemstra (naaswenner) en Anina Roux (stiger en eienaar van XWord).


Van Hemert, wat as dogtertjie saam met haar ma blokraaisels begin invul het, het verskeie uitdunrondes oorleef om haar plek in die finale kompetisie te verseker. Sy het ‘n verskeidenheid pryse ter waarde van nagenoeg R15,000 gewen. 

Die RSG Blokraaitoernooi in Bloemfontein het wye belangstelling uitgelok en is deur deelnemers, onder wie verskeie jongmense, van so ver soos Kaapstad, George en selfs Namibië bygewoon. Deelnemers kon aan drie uitdunrondes deelneem waartydens hulle spoed en kennis met die invul van ‘n uiteenlopende reeks raaisels getoets is. Nege deelnemers het uiteindelik die halfeindronde gehaal, waarna die drie finaliste aangewys is. 

In die finale ronde moes die finaliste elk ‘n reuseraaisel op ‘n staander voor in die saal invul terwyl die toeskouers alles kon dophou. 

Die hoof van die Dept. Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Vrystaatse Universiteit, prof. Angelique van Niekerk, het gesê dat die belangstelling in die toernooi almal se stoutste verwagtinge oortref het. Sy het haar departement se voortgesette betrokkenheid by hierdie projek bevestig. “Ons is daarvan oortuig dat die RSG Blokraaitoernooi van krag tot krag sal gaan,” het sy gesê, “en ons sal graag wil sien dat dit ‘n jaarlikse hoogtepunt op die kalender van die Vrystaat Kunstefees word.” 

Blokaspaai iPad 'App' vir XWord blokraaisels
Verkies jy om ons blokraaie op jou iPad in te vul? Probeer bietjie die blokaspaai applikasie! Kliek hier… 

Copyright / Kopiereg © XWord 2012